Monique de Koker


 


Ek is Monique de Koker 'n nege-en-twintigjarige ma van twee en 'n vrou vir 'n wonderlike man, Thys. Ek bly in Meyerton, maar ek moet sê ek slaap net daar, ek werk in Vanderbijlpark vir 'n finansiële diensverskaffer. Ek is 'n verkoopskonsultant by dag en na ure 'n student. Ek is tans besig om my B Comm graad te voltooi by die Noord Wes Universiteit , Vaal Driehoek kampus.


Ek het twee pragtige seuns, elke ma dink mos hulle spruite is die mooiste en die beste.....en ja myne is!! Christiaan is Boetie Baba, hy is nege maande oud en haastig met die lewe. Hy wil als doen wat ouboet doen. My oudste Boetie Beer is Johan, hy word April maand 'n volle vier jaar oud. As ek na hom kyk het hy net die beste van my en sy pappa gekry.... dankie tog!!


My gesin en my gesondheid is een van my grootste motiverings vir my reis tot 'n maerder ek. Ek wil graag goed voel oor myself en wil met my seuns kan speel sonder om elke vyf minute te "rus".


Ek het 'n vriendin wie se ma oorlede is, sy moes aan haar jong seun vertel dat ouma nou in die hemel is en 'n engel gaan wees. Die klein knaap was heel ontsteld en het sy ma in die oë gekyk en begin huil. Sy sê toe vir hom dat hy nie hartseer moet wees nie, sy antwoord aan haar was, “mamma kan nie doodgaan nie want jy is te vet om te vlieg!" Uit die mond van die suigeling kom die waarheid!!


In die begin was ek erg senuweeagtig, hoe sê mens vir Suid-Afrika jy weeg soveel soos twee mense saam? Wat gaan mense van my dink? Hoe gaan ek dit doen? Mens kan dit amper vergelyk met iemand wat 'n drank/dwelm probleem het. Hoe sê ek vir almal dat ek 'n probleem het. My man en ek moes lank sit en gesels, die uiteinde van die saak was dat Maatband en Slender Wonder vir my die kans van 'n leeftyd gee - met aanvaarding kom genesing. Ek het almal om my begin vertel van my reis. Tot my grootste verbasing het ek soveel ondersteuning ontvang, almal verwelkom die verandering en wil help.


Ek het nooit besef hoeveel ander se ondersteuning vir 'n mens kan beteken nie en dit gaan my grootste sleutel tot sukses wees. Die span van Slender Wonder gee om, die werk, my vriende en natuurlik my rots....my familie.


Tydens hierdie hele ondervinding het ek twee leuses aangeneem. Eerstens, hoe eet mens 'n olifant? stukkie vir stukkie en tweedens en die belangrikste een is....WIL JY RERIG.


Ek hoop om aan die einde van die dag suksesvol te wees in alles wat ek aanpak. Ek is erg opgewonde om te sien hoe Monique oor 'n paar maande gaan lyk en om my persoonlike reis met julle te deel.


Dankie vir almal wat nog baie in my lewe gaan beteken.